

Ferdi Louw besluit om binnehuis-versierder te word terwyl hy Skone Kunste studeer aan die Pretoria
Technikon. As student begin hy ook belangstel in die restoreer van antieke meubels en porselein. So raak hy betrokke
by die Vereniging van Handelaars in Oudhede. Hy bly tegelyk 'n kunstenaar en hou 'n eenman-uitstalling in die
Beuster-Skolimowski galery. Deesdae skilder hy pragtige muurskilderye, trompe l'oeil fresko's en ander kunswerke wat
in verskeie van sy kliënte se huise pryk.
Hy ontmoet sy eerste solo kliënt terwyl hy vir die bekende
versierder en antieke handelaar Pieter Oosthuizen werk. Daarna werk Ferdi (as kreatiewe konsep konsultant) vir vyf jaar
saam met Elize Labuschagne - 'n pionier van ons plaaslike binnehuis-versiering. Hulle werk saam aan verskeie groot
projekte, byvoorbeeld die nuwe interieur vir die Franse Ambassade in Pretoria. Ander hoogtepunte sluit in die
besigheidsman Martin Jonker se kultuurhistoriese woning (ontwerp deur Sir Herbert Baker) wat Ferdi versier in die styl
van die Hoog-Renaissance. Daar is ook projekte vir Amy Kleinhans ('n vorige Mej. Suid-Afrika), vir Balie Swart ('n
voormalige Springbok rugbyspeler) sowel as vir diplomate.
Ferdi het vir etlike maande met 'n rugsak deur Europa
getoer, en geniet dit om kuns-safari's diep in Afrika in te onderneem. Jy kan seker wees dat hy jou hele projek baie
bekwaam sal bestuur, want hy kom uit 'n familie met 'n gesonde sin vir besigheid. Laastens beskou hy nog steeds sy
hoërskool kunsonderwyser, Johann Deichmann (wie se persoonlike mentors Alexis Preller en Walter Battiss was)
as 'n beslissende en blywende invloed ten goede in sy lewe.
Jason Axll is beide die kantoorbestuurder by PULSE en 'n ontwerper van blomversierings. Hy deug
uitstekend vir albei hierdie take weens sy ondervinding (as aflosbestuurder) in die kleinhandel, gevolg deur etlike jare
se werk vir een van die voorste blomversierders in die land, Willem Jansen van Vuuren. Willem se winkel - First Floor
Flowers - het ook 'n afdeling vir binnehuis-versiering; dit was vir Jason 'n goeie inleiding tot hierdie vakgebied.
Gedurende sy tyd by First Floor Flowers het die kliëntelys ingesluit: Koningin Elizabeth en ander lede van
die Britse koninklike familie, kabinetsministers, ambassadeurs, televisie persoonlikhede en die organiseerders van talle
belangrike byeenkomste. Blomme is 'n integrale en noodsaaklike deel van enige tuiste, kantoor of samekoms. Jason se
kundigheid het beteken dat PULSE nou 'n spesialiteitsdiens kan aanbied in blomversiering, wat strek van korporatiewe
en kleinhandel kontrakte tot funksies (groot of klein) sowel as troues. Dit kan weeklikse of twee-weeklikse
sirkulasie-aflewering behels. Mense ontmoet Jason gewoonlik op die foon as kantoorbestuuder, terwyl Ferdi en Riaan
hulle hande vol verf het.
Riaan Smit is al deel van die PULSE span (en
sy voorganger, Ferdi Louw Studio) vir meer
as
15 jaar. Riaan het Ferdi ontmoet as Skone Kunste student aan die Pretoriase Technikon, waar sy hoofvak
Drukprosesse was. Riaan tree tans op as studio bestuurder en hoof veldkunstenaar, waar hy (saam met Ferdi) verantwoordelik
is vir die talle verftegnieke, muurskilderye en ander asemrowende afwerkings, wat al die handelsmerk van PULSE geword
het. Hy het ook uitgebreide ervaring in die gasvryheid bedryf, en het selfs vir nege maande kreatiewe vaardighede in 'n
kleuterskool aangebied. Oral het hy gawe getuigskrifte versamel, vanaf die mees uiteenlopende werkgewers - almal meer as
gelukkig. 'n Hoogtepunt in sy loopbaan was sy restorasie en herontwerp van 'n hele Georgiaanse dorpshuis (erfenis gelys)
in Edinburg, Skotland - insgelyks tot die tevredenheid van alle betrokkenes.
William Aphane is sedert 1999 verbonde aan die PULSE span. Hy het vyf jaar ondervinding in die
motorsprei-bedryf by Armscor SA. William het 'n vrou en een kind en woon op die PULSE perseel. Hy is die veelsydige een
in die span en het onmisbaar geword vir sy georganiseerde en sistematiese manier om dinge gedoen te kry. Sy diplomasie
het tot gevolg dat hy dikwels as bemiddelaar moet optree tussen PULSE en ander kontrakteurs, terwyl daar op dieselfde
perseel gewerk word. Sy skerp sin vir humor het hom die reputasie gegee van hofnar in die groep. Dit is miskien die
belangrikste: sonder hom neem die ander hulleself sommer gou te ernstig op.
· Kopiéreg © PULSE · Alle regte voorbehou ·
· E-pos · Verweb deur ·
| · · · · · · · |
ALGEMEEN Tuisblad English Teks alleen Vir aflaai Die span | · · · · · · · |
DIENSTE Studio Interieur Ontwerp | · · · · · · · |
ONDERHOUDE Oor lewenstyl Provençal / Toskaanse styl Romantiese styl Galery bladsy | · · · · · · · |
KONTAK ONS Besonderhede Terugvoer-vorm | · · · · · · · |