


Vraag: Ten spyte van al ons vryheid deesdae, word mense steeds ge-evalueer
volgens hulle LEWENSTYL, nie waar nie? Hoe sou jy styl definieer?
Ferdi: Ja, ek vrees lewenstyl word nog te
onmenslik bedryf in die gemeenskap, as 'n maatstaf om ander te beoordeel. Om so te maak word egter al meer gesien as
slegte styl. En hopelik sal ons almal binnekort insien watter slegte styl dit is, om ons mede mense en diere te laat honger
ly. Om jou ander vraag te antwoord - styl is mos maar onmoontlik om vas te pen. Dit is abstrak en persoonlik. Dis soos om
sekere mense "stylvol" te noem. Wat is daardie kwaliteit van hulle? Ek weet nie - maar ek sien dit baie mooi, en
geniet dit.
Dit sou beter wees om styl as 'n instrument te gebruik - 'n nuttige tegnologie - sonder om persoonlike
waarde daarmee te verbind. Deur bestaande style te ondersoek kan jy uitvind waarvan jy hou. Dit maak keuses alreeds baie
makliker. Kombineer dan hierdie style op 'n nuwe manier, om vars perspektiewe te skep. Die hart en verstand moet saamwerk.
Kies style wat jou lewenswyse pas: 'n leefstyl wat jou ware
self weerspieël, in plaas van 'n pronkstuk wat direk uit 'n internasionale tydskrif kom - maar wat
miskien nie jou persoonlikheid pas nie, of wat gewoon nie gerieflik gaan wees om in te leef nie. So skep jy eintlik 'n
illusie. As jy jouself eerlik sou afvra waarvan jy hou, sou die resultaat 'n meer toepaslike interieur kon wees - of
klerekas, motor, musiekversameling en so aan.
Vraag: Mens kan dus vryelik meng en pas?
Ferdi: Ja en nee.
Daar is niks verkeerd mee om 'n spesifieke styl te kies en dit goed te doen nie. Die Toskaanse styl is op die oomblik
baie gewild en as 'n styl is dit goed gevestig, met baie leidrade wat gevolg kan word. Maar 'n mens moet onthou dat die
Toskaanse styl self (om dit as voorbeeld te gebruik) oor honderde jare ontwikkel het deur blootstelling aan ander kulture,
wat met daardie streek in Italië in aanraking gekom het. Die Romeine het reeds noemenswaardige handel gedryf met
Indië en Afrika. Die Toskaanse styl is dus alreeds 'n ryk samestelling van invloede, wat gegroei het tot die
eiesoortige styl wat ons vandag ken.
Ek stel voor, gebruik speelse kontraste en ongewone kombinasies om iets uniek
en individueel te skep, maar behou 'n diep gevoel van harmonie. Al die dele moet saamwerk om 'n naatlose geheel te vorm.

Hier kan die hulp van binnehuis-spesialiste baie nuttig wees: om aan kliënte die vrymoedigheid te gee
om style opwindend te meng, maar om steeds daardie harmonie te bereik. Om eerlik te wees: as style nie heel versigtig
gemeng word nie kan die resultaat oordadig en gefragmenteerd lyk. Aan die ander kant laat die "blinde" navolging
van 'n spesifieke styl nie veel ruimte vir kreatiwiteit toe nie. Die groot ding is balans.
Vraag: Beskryf jou eie
styl.
Ferdi: Dit word seker die beste opgesom deur die Arabiese spreuk: "Wanneer die woning klaar is, trek
die dood in." 'n Huis moet altyd onvoltooid bly. Verandering is belangrik, in pas met die eienaars se veranderende
smake en leefstyle. Anders kom die dood in: dus, mense se lewens kom maklik tot stilstand wanneer hulle omgewing nie
"lewe" nie. Verskeie faktore beïnvloed die manier waarop huise ontwerp word. Die familie groei eers, dan
later verlaat die kinders die huis. Mense begin van die huis af werk, die skaal en manier waarop hulle onthaal, verander.
Smaak ontwikkel ook. Style wat tevore nie eens oorweeg sou word nie, kan later aanklank vind.
Ek benader versiering
soos 'n verkleurmannetjie, altyd op soek na nuwe insette. Dit is belangrik vir my om in nuwe style te werk, want dis een
manier om te groei in kuns. Lig en deursigtigheid is ander sleutel-elemente. Ek hou van glas en spieëls: Die maniere
waarop spieëls lig weerkaats en glas dit opneem, amper asof die glas sy eie lig afgee. Interieurs behoort deur die
natuur geïnspireer te word. My ideale binneruimte is 'n oop, solder-tipe vertrek, waar al die publieke dienste in een
ruimte gekombineer word: sitkamer, eetkamer, kombuis en studeerkamer. Die vertrek moet heeltemal oopmaak op die tuin, met
groot skuifdeure en/of vensters. Die binnekant word soort van minder belangrik as die buitekant. 'n Mens kan dus binne
wees terwyl jy die konstante verandering kan waardeer wat buite in die natuur plaasvind: die geluid van die wind in die
blare, die voëls in die bome, die verandering in die ligkwaliteit ens. Die teenwoordigheid van water is ook
belangrik.

Dit het 'n koel effek in warm weer
en die klank van water is kalmerend. Ander mense sien dit ook so - met gevolg dat die grense tussen huis en tuin oral
begin om minder definitief te word.
Vraag : Dikwels lyk dit of jy jou sosiaal geroepe voel - met lewenstyl, van
alles?
Ferdi: Verseker. Ek het al wyd in Afrika en Europa getoer, en verskillende kulture en metodes leer ken. Ek
help nou mense, as my eerbare werk, om die slim idees wat ek daar gesien het, hier in Suid-Afrika toe te pas. Hulle leer
graag van ons ook. Ons ontwerpers kry werk daar, en gaan wen selfs hulle grootste pryse.
Terug by die huis is ons
vandag die mees gevorderde Grondwet en (van alle lande) die minste buitelandse vyande. Ons het die beste weer, geen
ernstige aardbewings of orkane nie - noem maar op. Wat ons nog moet doen is om meer dankbaar te wees vir hierdie
wonderlike Suid-Afrika en dit as ons tuiste te aanvaar, om burgers te word, om op te knap en in te trek. Ja, sommige van
ons het baie rykdom om uit te stal. Ons moet daarna omsien, maar sien dit ook na ons om? - dit is die lewenstyl
vraagstuk.
Begin tuis: maak jou huis 'n tuiste vir jou eie hart, denke en siel. Waarom daarsonder voortgaan? Enige
tuiste is waardevol, en behoort tot die optimum gebruik te word, sodat dit die meeste vir ons kan beteken. Die regering
doen goed, maar kan nie boonop ons lewenstyle vir ons ontwikkel nie - laat staan nog ons harte verander. Die wat weet hoe
om 'n verskil te maak is maar steeds min, en moet nie hul plig versuim nie. Hierdie land kan een word wat goed is vir
verliefdes, idealiste, kunstenaars, en selfs 'n hawe vir die met gebroke harte - 'n werklik beskaafde land.
· Kopiéreg © PULSE · Alle regte voorbehou ·
· E-pos · Verweb deur ·
| · · · · · · · |
ALGEMEEN Tuisblad English Teks alleen Vir aflaai Die span | · · · · · · · |
DIENSTE Studio Interieur Ontwerp | · · · · · · · |
ONDERHOUDE Oor lewenstyl Provençal / Toskaanse styl Romantiese styl Galery bladsy | · · · · · · · |
KONTAK ONS Besonderhede Terugvoer-vorm | · · · · · · · |